EK DROOM ('n Gedig vir Suid Afrika)

EK DROOM deur LUZAAN BRAND
Hierdie gedig is geskryf deur Luzaan aan haar vriendin Caryn, 'n maatskaplike werkster in haar eerste ses maande in 'n plattelandse gemeenskap met uiterste nood. DIt is waaroor ons jongmense droom.... Waaroor droom ons. Waaroor droom jy nog? En wat doen ons in die dag?
Ek droom van groengras by parkies
en glimlagte op swaaie.
Ek droom van skoolskoene, van truie
en heininglose skole.
Ek droom van tydlose fietsresies
in veilige stofstrate.

Ek droom van lopende water
en spoeltoilette;
van swart kospotte
en hongerlose lywe;
reënweerstand huise
en pienkblom tuine.

Ek droom van tronkvry pa’s
en oud-genoeg ma’s.
Ek droom van kinders wat speel 
en in helde spore trap.
Ek droom van volop werk
en saameet gesinne.

Ek droom van ons – 
van hande en van voete:
ons hande vervul drome
ons voete trap vir vrede
en ons lippe sing van hoop
in ‘n land wat lank reeds lewe

 

PINKSTER 2012

Vanjaar (2012) se Pinkster vind plaas elke aand vanaf Sondag 20 Mei tot Donderdag 24 Mei om 19h00. Die prediker is dr. Theo Swart en hy bied 'n reeks boodskappe rondom die saligsprekinge van Jesus. Die tema is: DIE ONDERSTEBO GELUK VAN JESUS. 

Op Sondagoggend om halftien, 27 Mei is ons Pinksterfees wat ook gelei word deur dr. Theo Swart. Op die dag nooi ons alle atelete wat vanjaar aan die 2012 COMRADES gaan deelneem om ons erediens by te woon. Theo het al 27 Comrades marathons voltooi en kan met gesag daaroor praat. Die tema is PERMANENTE NOMMERS. Ons gaan vir elke atleet 'n boekmerk gee en ons nooi hulle uit om stamina te bou deur saam met ons tee en koeksisters te geniet na die diens. 

Ons gebed is dat God hierdie Pinkster ons sal seen deur Sy Gees en ons leer hoe om as Sy anderster soort kinders en mense te leef en te hardloop!

 

LIED VAN DIE WENNER

ONS GEBED VIR COMRADES ATLETE

 

LIED VAN DIE WENNER

(Jan de Wet se woorde vir musiek van Chariots of Fire)

U is my sterkte

My hulp en my Heer

U krag gee my vlerke

En ek triomfeer

Ek is 'n oorwinnaar

In Jesus se krag

Oor berge en steiltes wat nog op my wag.

Met U gaan ek duisend berge oor

Met U Heer hier by my

Al lê vir my pyn of swaarkry voor

U Gees staan my by

U vul my met sterkte en met krag

U hardloop hier langs my

En als wat ek nodig het vandag

Dit gee U vir my

U bruisende lewe

vloei hier binne my

Dat ek hoër kan strewe

En oorwinning verkry

Met U kan ek aanhou

Met U sal ek wen

Omdat U my lief het

En omdat ek U ken

Met U gaan ek duisend berge oor

Met U Heer hier by my

Al lê vir my pyn of swaarkry voor

U Gees sal my lei

En U laat my voete veilig staan

U Gees gee my lewe

Met U kan ek heelpad voluit gaan

Want U is by my

Ek is 'n oorwinnaar

In Jesus se naam

Oor berge en steiltes gaan Hy met my saam

En ek sal nie vrees nie

Nee, ek is nie bang

Want met U hier by my weet ek dat ek kan

Ja, ek is meer as oorwinnaar

in Jesus se naam

 

JEUGDIAKENS VIR PAROWVALLEI OOS

Ons het in Mei maand 'n historiese gebeure gehad met die verkiesing van 'n Jeugdiakenspan vir die gemeente. Hulle is amptelik verkies deur die Bestuurspan, voorgestel aan die gemeente en het reeds hul eerste vergadering gehad. Daar is drie mentors betrokke, naamlik Leon Venter, Wouter Swart (gekontrakteerde jeugwerker) en Marelique Coetzee. Mareli Engelbrecht is gekies as eerste voorsitter en Johan Vercuiel is die ondervoorsitter met Sanet Retief die sekretaresse. 

Ons bid vir hierdie jongmense op hierdie nuwe reis en geloofsontdekkings in hul lewe en sien met verwagtend uit na die nuwe dinge wat God in en deur hulle wil doen in ons gemeente. 

 
Find the Best Web Hosting which offers reliable service and top quality support