40 Dae Dissipel Gebed deur Hennie Heyman

40 DAE  GEBED VIR DIENSBAARHEID (Hennie Heyman)

Here Jesus,  baie dankie dat U gewillig was om aarde toe te kom,  nie om gedien te word nie,  maar om te dien.

Help ons,  as  40 dae dissipels en gemeente asseblief om in U voetspore te volg.

Maak ons gewillig om diensbaar te wees,  om ons moue op te rol,  en om aktief betrokke te raak om U roepstem te hoor,  ook in hierdie dae,  hoe ons vir U en ons gemeentelede kan bedien.

Gee Vader dat ons nie langer net sal bid en organiseer nie,  maar dat ons daadwerklik iets sal doen om die omstandighede vir en van ons omgeegroep,  gemeente en ons medemens te verbeter.

Here.  Gee ons die insig en die visie,  en die gehoorsaamheid om na U stem te luister,  sodat ons mag weet wat U plan met u dissipels en hierdie gemeente is.  Wys ook vir ons duidelik Vader waar U vir ons wil gebruik.  Dankie ook vir hulle wat  saam met ons vergader,  wat ons ook begelei hoe om U stem te hoor.  Dankie ook vir hulle stories en hulle ondervindinge wat hulle in hierdie groep en gemeente kan inploeg.

Here,  ons is jammer dat ons soms so opsien teen die dinge wat gedoen moet word,  in U Huis,  U gemeente en U Koninkryk.

Ons vra  verskoning Here dat ons baiemaal so besig is met ons eie vol programme,  dat ons dié dinge wat ons vir U behoort te doen,  nie eens raaksien nie,  dat ons so dikwels ook by ons naaste se nood verbystap.

 Help ons Here,  dat ons,  as U dissipels,  elke dag sal gee in diens van hierdie gemeente,  sonder enige bymotiewe,  Vader,  want dit is waarom U ons op hierdie aarde geplaas het.

Dankie ook vir die geheim wat ons kon ontdek,  dat egte liefde altyd diens is,  en dat ons, wanneer ons blymoedig diens lewer,  die sleutel tot die fees van die lewe sal ontvang.

Dankie ook vir die beloftes in U Woord,  in Galasiërs 5,  Here,  dat ons nie moeg moet word om goed te doen nie,  want op die bestemde tyd sal ons ook die oes insamel.  Gee Here dat ons gehoorsaam sal wees aan die opdragte wat U vir ons gee,  dat ons dit spontaan uit die innerlike van ons oortuiging sal doen.

Gee Here dat ons ten volle en met ons hele hart op U sal vertrou,  laat ons die goedheid van U belewe,  en Here,  hou die werk van ons hande in stand,  ja die werk van ons hande,  hou dit in stand.

 Dit vra ons net uit genade,  en nie omdat ons dit verdien nie.

 AMEN

Outeur: Hennie Heyman

 
Find the Best Web Hosting which offers reliable service and top quality support